Click Here for English

Helderberg Plaas verskaf kwaliteit Aarbei Plugs / Plante  en Saailinge aan Huistuine, klein Produsente, plase en Kwekerye regdeur Suid Afrika.

Wees suksesvol. Plant die regte kultivar aarbeie op die regte tyd van die jaar. Kyk gerus na die riglyne onderaan.

TWEE HOOF GROEPE AARBEIE

Lente Vrug (Kortdag)  kultivars byvoorbeeld Selecta (benodig kort dae om blomme te vorm)

  1. Plant tyd : Herfs (einde Maart tot April)
  2. Blom en dra vrugte slegs vanaf Augustus tot Desember.

Dagligneutrale kultivars (Everbearing) byvoorbeeld  Aromas

  1. Plant tyd: Einde Maart tot middel Augustus vir beste resulte.
  2. Blom en dra vrugte enige tyd van die jaar onder ideale omstandighede.

HOE BESTEL EK AARBEI PLANTE?

Lees asseblief die onderstaande inligting voordat u ‘n bestelling plaas:

Stuur ‘n epos na helderbergplaas@mweb.co.za vir enige navrae / pryslys of om bestelling te plaas.

Ons verkoop Kortdag (Springbearing) sowel as Dagligneutrale kultivars (Everbearing). Beperkte voorraad beskikbaar.

Plaas u bestelling teen einde November om beskikbaarheid te verseker.

Enige bestellings wat na 30 November geplaas word sal hanteer word volgens bestellings volgorde solank voorraad hou.

Kortdag Kultivars (Springbearing) (Selekta) sal beskikbaar wees vanaf 20 Maart tot 30 April.

Dagligneutrale  Kultivars (Everbearing ) (Aromas)saailinge / plugs sal beskikbaar wees vanaf 20 Maart tot 31 Augustus     

Minimum bestelling is 25 saailinge. Afslagpryse is beskikbaar vir bestellings groter as 100 plugs / saailinge. 

RIGLYNE HOE OM AARBEIE SUKSESVOL IN SUID AFRIKAANSE HUISTUINE TE KWEEK.

Elke Tuinier behoort die vreugde te kan hê om van daardie heerlike rooi vrugte te deel met sy familie en vriende uit sy gesonde welige aarbei bedding.

Die volgende riglyne kan u help om die regte kultivar aarbeie op die regte tyd te plant in u spesifieke klimaatstreek.

Ideale Klimaat –

15-28°C is die optimum temperatuur vir die ontwikkeling van aarbei blomme en vrugte. Die plante benodig ook ‘n minimum van 6 – 8 ure sonlig per dag. In ons warm somer is die uitdaging om ‘n perfekte balans te vind tussen skaduwee en sonlig. Indien daar ‘n keuse is sal oggendson en namiddag skaduwee beter werk. Goeie ventilasie is altyd belangrik. Hou dus die heersende windrigtings in gedagte wanneer u ‘n struktuur beplan. Aarbeiplante kan temperature van onder vriespunt oorleef onder sekere toestande.
Klimatologiese Uitdagings: koue,nat winters met warm somers / ryp / droëwinters met nat somers.
Hulpmiddels: kultivarkeuse / strooi bedekking / rypnette / minitonnels / 40% – 60% skadunet vanaf middel oktober tot einde Maart.

Kultivarkeuse –

Twee hoofgroepe aarbeiplante beskikbaar:

Kortdag Kultivars (Springbearing):  Blominisiasie vind slegs plaas wanneer die dagliglengte korter as 12 ure is. Selekta en chandler is welbekend in suid afrika. Selekta toon goeie weerstand teen wortel, blaar en vrug siektes.
Dagligneutrale Kultivars (Dayneutral/ Everbearing) byvoorbeeld Aromas: Blom en dra vrugte deur die jaar onder ideale omstandighede.

Planttyd –

Kortdag Kultivars (Springbearing):  Plant saailinge/plugs sodra somerhitte afneem einde maart/april. Die plante moet soveel moontlik ontwikkel voor  die koue vaan die winter toeslaan.

Dagligneutrale Kultivars (Dayneutral/ Everbearing):  beste planttyd vanaf middel maart tot augustus. Vroë aanplantings gee beter produksie.  Aanplantings van elke 4-6 weke sal help om die piek oestyd te verleng, veral in areas met gematigde winters.

Plante wat u in groter potte aankoop: Byvoorbeeld by kwekerye,  kan later in seisoen geplant word aangesien die plante  dan reeds goed ontwikkeld is.

Plante wat u aankoop in groter houers in die somer kan u soos normaalweg plant: Wag tot april en snoei dan heeltemal terug. Dit behoort weer terug te groei normal te blom. Skadunet sal ook baie help teen die warm son.

Produksie –

Kortdag Kultivars (Springbearing soos Selekta):  Oes begin augustus/september en piek in middel november. Gewig omtrent 500g of meer per plant oor 10 tot 12 weke.

Dagligneutrale Kultivars (Dayneutral / Everbearing soos Aromas.): Begin oes omtrent 3 maande na plant in total omtrent 500 g of meer per plant oor 6 tot 8 maande. Verspreide aanplantings van elke 4 tot 6 weke sal die piek oes verleng.

Plantmetode –

Spasiering binne die ry 30-35cm. Tussen ry spasiering omtrent 10 tot 60  cm afhangende van u uitleg soos bv dubbel ry van 10cm en dan weer 60cm. Plant die 2de ry afwisselend met die eerste ry se plante. Hou ventilasie in gedagte. Die diepte van plant is baie belangrik. Die grondlyn moet op die skeiding wees tussen die kroon en wortelsone. Die kroon is die deel van die plant waar die blomme en blare gevorm word. Te diep of te vlak plant kan lei tot stress, siektes en swak groei. ‘n deklaag sal waterverlies beperk, onkruid beheer, vrugte skoon hou.

Grond, bemesting, saadbedding –

Aarbeie kan op ‘n wye verskeidenheid van plekke en metodes geplant word soos direk in die grond, opgehoopte beddings,  plant bokse, potte, hangmandjies, hidroponika.  Gebruik die heersende windrigtings as riglyn wanneer u die tuin uitleg beplan. Dit sal baie help met ventilasie. Opgehoopte beddings sal help met dreinering.

Ideale ph is 5.5 tot 6.5. Gebruik diep goedgedreineerde humusryke grond. Aarbeie regeer baie goed op goeie kwaliteit kompos met lae soutinhoud. Kompostee elke 7 – 10 dae sal help om grond en wortels gesond te hou en help met siekte weerstand.

Gebruik chemise kunsmis met oorleg. Die vlak wortelstelsel is baie sensitief vir oormaat soute. Gereelde voeding in klein hoeveelhede werk goed. Gereelde blaarvoeding help ook om die voedingsbalans in stand te hou en help met siekte weerstand. Jong blare moet ‘n gesonde groen kleur hê.

Instandhouding –

Besproeiing is een van die sleutels tot sukses. Hou die bedding heeltyd klam maar nie te nat nie.

Druppers met ‘n tydskakelaar is ‘n goeie opsie. Droë periodes sal die vlak wortels beskadig en kan lei tot wortelvrot en siektes.

Eerste paar weke na plant. Verwyder alle  blomme rankies en ou blare totdat daar omtrent 5 tot 8 nuwe gesonde blare is en die plante mooi gevestig is.  Hierna kan u die blomme laat om vrugte te ontwikkel. Gaan voort hierna om gereeld rankies , vrot vrugte en verkleurde blare te verwyder. Dit stimuleer nuwe groei en blomme.

Moenie die siek material op u komposhoop gooi nie. Onthou om gereeld kunsmis, blaarvoeding en kompostee toe te dien. Doen navraag na stadig vrystellende kunsmis by u naaste kwekery.

Siektes en Plae –

Voorkoming is beter as genesing.

Verminder stressfaktore soos plant te diep of te vlak, te min sonlig, te veel direkte warm son,  onvoldoende sanitasie (vrot vrugte, dooie material en geel blare), onvoldoende ventilasie, droë periodes,  aanhoudende oorhoofse besproeiing of reen, versuipte grond,  onkruidkompetisie ens.

Gesonde stresvrye plante het die beste kans op weerstand teen blaar, vrugte,en wortelsiektes.

Peste soos rooispinnekop, bolwurm, duisendpote, plantluise, blaaspootjies en slake kan soms ‘n uitdaging wees, kontak u naaste  kwekery vir kundige raad.

Vervang Plante –

Suid Afrika se klimaat het baie uitdagings. Dit kan die moeite werd wees om jaarliks u aarbei bedding op die regte tyd met die regte kultivar met goeie kwaliteit plante te vervang.

Voorbeelde van Vrug-draende Aarbei Plante

U is welkom om ons te skakel vir meer informasie –

Wimpie: 083 381 5331

Epos: helderbergplaas@mweb.co.za